Die geboë ouditorium troon bokant die aangrensende kleinhandelontwikkeling uit en skep sodoende 'n landmerk. Die teater loop aan die binnekant uit op 'n piazza op die grondvloer waar dit deel vorm van die vier aparte kleinhandelgeboue.
'n Akoestiese ontwerpmodel het die vorm, hoogtes, volume en oppervlakafwerking van die ouditorium, wat deur 'n akoestiese ingenieur ontwerp is, bepaal. 'n Modulêre weerkaatsingspaneel, wat uit reghoekige vorms in verskillende kombinasies en materiale bestaan, maak deel uit van die kantmure van getekstureerde pleister. Aan die binnekant van die weerkaatsingspaneel is 'n "weggesteekte venster" wat by die opname-ateljee aansluit vir visuele kontak. Belatte mure en kantdeurpanele van hout verleen warmte vanuit 'n estetiese oogpunt, terwyl dit terselftertyd ook 'n akoestiese doel dien.
Die teater het 'n asimmetriese ingang wat die teaterganger binnenooi vanuit die restaurante op die piazza. Treffende landskapsontwerp en plaveiselpatrone vul die natuurlike ontwerpe aan. Die bekende beeldhouer, Angus Taylor, is deur Atterbury Property Group aangestel om beelde te ontwerp wat die omliggende spasie komplimenteer.
'n Reuse staal en glaskoepeldak (met beligting) loop skuins op oor die geboë ingang tot die teater. Mure van glas met vertikale gekleurde ligstroke agter, begroet die teaterganger met die instap en dui die omvang van die ouditorium daaragter aan. Vier van die panele het plek vir LCD skerms vir televisie-uitsendings, advertensies of vertonings. Dit is op 'n aslyn met die assimmetriese ingang geplaas.