Elvis Blue en Lize Beekman vier nuwe Afrikaanse liedjieskat met jong talent

Wat het Lucas Maree, Elvis Blue, Lize Beekman, aspirantliedjieskrywers en die ATKV in gemeen? Die antwoord op hierdie vraag sal volgende Sondag duidelik word wanneer die gordyn by die Atterbury Teater op die Lucas Maree Liedjieskryfkonsert lig.

As een van die grootste liedjieskrywers wat Afrikaans nog ooit opgelewer het, was Lucas Maree die inspirasie vir ’n liedjieskryfskool aangebied deur die ATKV en Atterbury Trust by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Hier het jong aspirantliedjieskrywers onlangs aan die voete van musikante soos Elvis Blue, Coenie de Villiers en Lize Beekman die geheime kom leer van toonset, musiekverwerking, intellektuele eiendom, musiekregte en meer.

De Villiers was die brein agter die skryfskool, en sy passie om die Afrikaanse musiekskat te laat groei en skitter, die inspirasie. “Daar is baie Afrikaanse musiek daar buite, maar dit verg spesiale talent om liedjies met wêreldklas-lirieke en melodiëe te skryf en te toonset, wat in mense se harte kruip en langer gewild bly as volgende week se trefferparade. Lucas Maree het daardie talent verpersoonlik, en dit is hoekom ons die Liedjieskryfskool na hom vernoem het,” verduidelik De Villiers, wat ook by die konsert sal optree.

“Die idee agter die skryfskool was dat bestaande suksesvolle kunstenaars die volgende generasie van liedjieskrywers wou inspireer en hulle touwys maak in die fynere kunsies van die bedryf, omdat die mantel op hulle skouers gaan val om die Afrikaanse liedjieskat te laat voortleef en floreer.”

Elvis Blue en Lize Beekman is die hooftrekpleisters by die konsert, wat ook sal hulde bring aan Lucas Maree. Hul sal die verhoog deel met Jannie du Toit en Thean Kotze, en drie van die talentvolle hoërskool-liedjieboere wat die skryfskool bygewoon het, sal hul eie oorspronklike liedjies debuteer. “Die talent van Tacita, Jonathan en Nicole is regtig merkwaardig, en ons ouer musiekgarde is baie opgewonde om dit met die publiek te deel,” vertel De Villiers.

Die Lucas Maree Liedjieskryfkonsert vind Sondag 9 September om 16:00 by Atterbury Teater plaas. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

Kunstenaars: Lize Beekman, Elvis Blue, Coenie de Villiers, Thean Kotze & Jannie du Toit

Datum: 9 September 2018 om 16:00

Kaartjies: R150

Besprekings: Computicket of 012 942 5951