Indien die vorm hierbo nie werk nie, stuur asb. ‘n e-pos aan info@atterburytheatre.co.za met jou intekeningbesonderhede.

Goeiedag Atterbury Nuusbrief Vriende,

Augustus is Vrouemaand en op Vrouedag, 9 Augustus is hier twee baie spesiale geleenthede om al die vroue te trakteer. Dit is ‘n Stroomop Inspirasie dag en die droom van die skrywers en vervaardiger, Donnalee Roberts en Ivan Botha om alle vroue te inspireer om stroomop te swem, teen die wêreld se onrealistiese verwagtinge en om die avontuur van vrouwees elke dag te vier.

Donnalee is die hoofspreker met inspirerende hartstories, Simoné Nortman die spesiale gasspreker en vyf fluweelstemme sal tot die siel van elke vrou spreek: Caroline Grace, Janie Bay, Lizandra Winter, Clarice Pieterse en Kate Rok. Voeg daarby iets te drinke en ete, Placecol bederfstasies, mini-makeovers, ‘n pop-up shop van The Romantic Collection, die SARIE winkel, ‘n waardevolle geskenkpakkie en vele meer .Dis verseker iets wat elke vrou op hierdie spesiale dag verdien!

Spesiaal ook vir Vrouemaand – Sondag 5 Aug Danie Niehaus want waar is ‘n mooier liedjie vir vrouens as Jy is Vrou soos net Danie dit kan sing!

Ons sien ook in Augustus uit na:

2 Augustus 2018 om 20h00 – Die Radio Kalahari Orkes

RKO se musiek strek van ‘n diep gewortelde plek, wat Ghoema-, Latyns- en Africana-musiek aanneem, insluitend enigiets anders wat langs die grondpad te vinde is. Die woorde is egter ferm op die hede.

Met akoestiese toerusting amper so oud as hul leuse speel die klanke uiteen: viool, kitare, dobro, mondfluitjie, bas, trekklavier, gazoos en ‘n ou Fender Telecaster.RKO is op 20 April 2017 vereer met ‘n FAK – Prestige-toekenning vir die uitstekende bevordering van Suid-Afrikaanse volksmusiek.

3 Augustus 2018 19h15 – The Heart of Worship

Die vrystelling van die debut album in 2017 het die geleentheid geskep om om hierdie ervaring op n Nasionale Toer aan te bied. Tshwane is gekies om deur  talentvolle Pastoor Makhudu met Heart of Worship bedien te word deur  liedere en danse, n dinamiese ervaring! ‘n Kragtige vertoning van suiwer lof en aanbidding .

Hulle sê : “The Revealed Worship Project is set to really put your heart ablaze and leave you with hope of the New Dawning beckoning the horizons. We are the Chosen Generation and Royal Priesthood appointed called and chosen for such a time as this, and we have a sound of awakening coming from the Hearts of Worshippers fulfilling the mandate God gave us!!”

5 Augustus 2018 16:00 – Danie Niehaus: Solo

In SOLO neem Danie Niehaus jou op ‘n onvergeetlike reis deur sy lewe, deur tyd…met musiek van lank gelede tot nou en hy reis ook met gemak deur verskeie tale en genres!

Die oorspronklike musiek, besing die emosie van liefde en is die pennevrug van meer as 35 jaar in die musiekbedryf, wat ook musiek insluit soos sy nuwe treffer “Parys in die somer” van sy nuutste album,  “Meesters van die Kuns” en Danie se ikoniese en mees bekende “Jy is vrou”.

Die program neem die gehoor op ‘n musikale reis deur ballades, ligte rock- en ligte klassieke musiek met vertellings – soms komies – oor die ontstaan van al die liedjies – dié uit sy eie pen, maar ook die ou bekende musiek waarmee hy grootgeword het en wat hom geïnspireer het oor die jare om musiek te skryf en te sing. Jy kan saam met Danie lekker lag, heerlik terugdink en sommer goed nostalgies raak!

Reis is altyd beter saam met ‘n goeie reisgenoot en Danie Niehaus nooi jou om vir hierdie een vertoning, saam met hom op ‘n reis te gaan! Moet nie hierdie fantastiese uitstappie misloop nie!

Danie word begelei deur die briljante kitaarspeler Mauritz Lotz en gaskunstenaar is die Binnelanders-akteur, Germandt Geldenhuys.

8 Augustus 2018 20h00 – A Tribute to the Killers

Perskeblom Produksies bied aan, Shot at the night, A Tribute To The Killers. Hierdie produksie bevat vyf van Suid-Afrika se beste musikante, en hulle bring hulde aan The Killers. The Killers, wat in Las Vegas in 2001 gevorm is, staan bekend vir treffers soos “When you were young”, “Somebody Told Me” and “All These Things That I’ve done”. Die vertoning belowe om te vermaak met al hierdie treffers, asook treffers soos The man, Human, en Mr Brightside.

Die band bestaan uit: Jako Meyer (stem), Rudolph Botha (kitaar), Jaco Muller (Baskitaar), Lolke-Louis Claassen (dromme) en Joe Huyzers (keys).

9 Augustus 2018 9h00 & 13h00 – Vrouedag Stroomop Inspirasiedag

Soos in die inleiding bespreek.

10 Augustus 2018 20h00 – Nathan Smith Guitar Legends 2

Kom geniet op 10 Augustus die tweede episode van die huldeblyk  aan die groot singende kitaar legends, wat o.a. insluit kunstenaars soos Santana, Gary Moore , Stevie Ray Vaughn , Eric Clapton  en vele meer. Hierdie ikoniese treffers word vertolk  deur Nathan Smith se uitstekende  5-stuk orkes.

12 Augustus 2018 17h00 – CH2 & die Soweto String Quartet

CH2 & die Soweto String Quartet. Twee van Suid-Afrika se PREMIERE instrumentale bands saam op een verhoog. Wees gereed om WEG geblaas te word. Sowaar ‘n belewenis vir oud en jonk.Ook spesiaal vir die viering van Mandela dag.

19 Augustus 2018 17:00 – Ses Snare 10 Jaar Later

Ses Snare het hulle eerste konsert in Augustus 2008 gehou, byna op dieselfde dag en datum as wat hulle 10 Jaar Later konsert op 19 Augustus by Atterbury Teater plaasvind.

Die afgelope 10 jaar het die Snare verskeie gedaanteverwisselings ondergaan, maar die onmiskenbare “Snare-klank” is steeds daar, en nog net so gewild soos altyd.

Immergroen rock- en pop treffers kry die “Snare – behandeling” en kry ‘n nuwe klank met ses stemme en kitare. Deesdae is daar ook perkussie by wat die klank nog meer besonders maak.

Kom luister op Sondag 19 Augustus na ‘n spesiale 10 jaar verjaarsdagkonsert, ses Snare gaan van hulle gewildste musiek van die afgelope 10 jaar speel, met ‘n paar verrassings ook ingesluit.

Die huidige Snare is Blackie Swart, Leon Ecroignard, Pieter Smith, MD Greyling, Peter Hoven en Rick Swart.

22 – 26 Augustus 2018 Verskye Tye – Fiela se Kind

God vergewe ons baie, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ´n kind aandoen nie.  Die bruin vrou Fiela Komoetie het haar wit vondelingkind Benjamin met liefde en trots grootgemaak, tot die dag nege jaar later dat die sensusmanne hom kom haal het.  “Hulle het hom net kom vat… sommer net so!” het Fiela Komoetie gesê.

Aan die ander kant van die berg, in die Bos, woon die houtkapper Elias van Rooyen en sy vrou Barta, wie se driejarige Lukas weggeraak het.  Is Benjamin en Lukas dieselfde kind?  Jare later is dit Benjamin/Lukas self wat worstel met die vraag: wie is ek?  Hy móét weet, anders kan die vrou wat hy liefgekry het nooit syne wees nie.  Die antwoord is daar, weet hy: iewers in homself, diep verskuil in die verlede, bly dit hom ontwyk.

Dalene Matthee se baie bekende Fiela se Kind is deur Suzanne van Wijk vir die verhoog verwerk en Frans Swart hanteer die regie.

30 Augustus 2018 19h30 – Franna Benade Emmers vol Note

Franna Benadé bring sy musiekkonsert ‘Emmers vol note’ op 30 Augustus 2018 na die Atterbury Teater in Pretoria.

Sy blymoedigheid is aansteeklik en sy kenmerkende skaterlag lig enige swaar gemoed op om saam te lag. ‘Daar is immers emmers vol om oor dankbaar en bly te wees”, glo Franna ruiterlik.  ‘Emmers vol note’ weerspieël juis hierdie uitkyk op die lewe en beloof om in jou hart rond te woel en jou talle redes te gee om uitbundig saam te lag of dalk met diep dankbaarheid ‘n traan af te vee.

Franna is ‘n Nylstromer en Bosvelder in murg en been. Dis hier waar hy en sy sangmaatbroer, Innes hul eerste lig aanskou het en ook saam in die tagtigerjare hul musiekloopbaan as “Innes en Franna” begin bou het. Dit was vir Franna ‘n onvergeetlike aantal jare. Vandag bly hy en sy gesin steeds buite Nylstroom en hy sing steeds reg oor die land, waarvan Atterbury Teater een van die hoogtepunte is.

Die Wonderboom Hoërskool Koor sal ook optree! Hulle het ‘n Silwer Medalje gewen in die World Choir Games Champions Competition en Goud in die Open Competition. Die Conwonnité Koor het Silwer gewen in die 2018 World Choir Games en die twee kore saam as Conwonnité in 2016: Algehele Wenners van Golden Voices in Barcelona, in Spanje.

Franna het gekies om te lewe, en hy het gekies om te sing!! Maak gereed vir ‘n onvergeetlike, energieke en besielende aand saam met hom en sy orkes.

31 Augustus 2018 19h00 – Come Fly With Me

Daniel Conradie staan op die vooraand daarvan om ‘n lewenslange droom te vervul – om Musiek Teater by die New York Film Academy in New York City te studeer. Hy vertrek in September na New York waar hy onder andere deur bekende Broadway kunstenaars en regisseurs opgelei sal word.

Daniel het die musikante en musiekonderwysers wat ‘n impak op sy loopbaan gehad het genooi om vir een aand saam met hom in die Atterbury teater op te tree in sy produksie Come Fly with Me. By wyse van die konsert wil Danie almal wat ‘n invloed op sy lewe gehad het eer en wil hul gesamentlike liefde vir musiek vier.

Die program vir die aand sluit musical treffers soos Tomorrow uit  Annie, Stars uit Les Misérables en  Anthem uit Chess in. Bekende pop melodiee soos Candle in the Wind en Goodbye Yellow Brick Road van Sir Elton John sowel as Afrikaanse gunstelinge soos Lisa se Klavier en Hotgates van Laurika Rauch sal ook opgetree word.

Dit beloof om ‘n aand te wees waarin wonderlike herinneringe van die Jakaranda Kinderkoor, Waterkloof House Prep School, St Albans College en die Universiteit van Pretoria herleef gaan word.

Bo en behalwe ander bekende Pretoria kunstenaars wat deel van die program sal wees, gaan Daniel se heel eerste sang onderwyseres, Patti van der Ploeg, saam met hom optree.

Koop ‘n kaartjie en Come Fly with me om ‘n wonderlike aand van vervulling van drome mee te maak.

In September is daar ‘n paar vertonings wat vinnig gaan uitverkoop bv.Charl du Plessis, Nataniël se Lentekombuis, Triomf ‘n Rede om te Sing met Steve Hofmeyr, Robbie Wessels en Sorina en  Coenie de Villiers en Deon Meyer met Karoosuite. Bespreek dus betyds!

Groete,

Paulette