AT2

Welkom by die Atterbury teater

Die Atterbury Teater is ‘n voortreflike, klassieke konsertsaal en is terselfdertyd optimaal toegerus wat ruimtelike akoestiese vereistes betref. Die teater is geleë op die hoek van Lynnwoodweg en Daventrystraat in die ooste van Pretoria, as deel van die Lynnwood Bridge Retail-ontwikkeling.

Die teater is op 18 Mei 2011 geopen met die musiekblyspel “Stuur Groete aan Mannetjies Roux”. Al 24 vertonings was uitverkoop, en dit was maar net die begin. Van daar af was dit mooiloop al die pad. Daar is in die eerste twee jaar meer as 400 vertonings aangebied en die teater word steeds aand na aand vir ‘n verskeidenheid geleenthede benut.

Atterbury Teater het ook ‘n volledige toegeruste Computicket-kantoor, wat sedert Junie 2011 meer as 20 000 besprekings vir die teater hanteer het. Daar is ook ‘n goed toegeruste kontantkroeg in die voorportaal, waar teatergangers voor vertonings en tydens pouse ‘n drankie kan geniet. Die voorportaal en kroeggedeelte loop uit op ‘n balkon met ‘n uitsig oor een van die mooiste dele van Pretoria, en sluit aan by die ontvangsarea van die opname ateljee, Odyssey Records.

Om die teater te besigtig, kontak ons gerus vir ‘n afspraak op 012 471 1700/1/2.

Argitektoniese styl

Die geboë ouditorium troon bokant die aangrensende kleinhandelontwikkeling uit en skep sodoende ‘n besonderse landmerk in die ooste van Pretoria. Die teater loop op die grondvloer uit op ‘n piazza, waar dit deel vorm van die vier aparte kleinhandelgeboue.

’n Akoestiese ontwerpmodel het die vorm, hoogtes, volume en oppervlakafwerking van die ouditorium, wat deur ‘n akoestiese ingenieur ontwerp is, bepaal. ‘n Modulêre weerkaatsingspaneel, wat uit reghoekige vorms in verskillende kombinasies en materiale bestaan, maak deel uit van die kantmure van getekstureerde pleister. Aan die binnekant van die weerkaatsingspaneel is ‘n weggesteekte venster wat die opname-ateljee met die ouditorium verbind vir visuele kontak. Belatte mure en kantdeurpanele van hout verleen warmte vanuit ‘n estetiese oogpunt, terwyl dit terselfdertyd ook ‘n akoestiese doel dien.

Die teater het ’n assimetriese ingang wat die teaterganger binnenooi vanuit die restaurante op die piazza. Treffende landskapsontwerp en plaveiselpatrone vul die natuurlike ontwerpe aan. Die bekende beeldhouer, Angus Taylor, is deur Atterbury Property Group aangestel om beelde te ontwerp wat die omliggende ruimte komplimenteer.

’n Reuse staal- en glaskoepeldak (met beligting) loop skuins op oor die geboë ingang na die teater. Mure van glas, met vertikale gekleurde ligstroke agter, begroet die teaterganger met die instap en dui die omvang van die ouditorium daaragter aan. Vier van die panele het plek vir LCD-skerms vir televisie-uitsendings, advertensies of vertonings. Dit is op ‘n aslyn met die assimetriese ingang geplaas.

Studio 3 Architects International, die argitekfirma wat die teater ontwerp het, was in 2012 die nasionale wenner van die 8ste Saint Gobain Gypsum International Trophy in die Innovasie-afdeling, vir die gebruik van sekere produkte in die ontwerp van die plafonne in die teater. Die projek is deur Tekweni Centurion Ceilings behartig.

Tegniese spesifikasies

pdf-icon Laai tegniese spesifikasies af